Begrafnisondernemers landwyd sit met die hande in die hare omdat hulle veronderstel is om Covid-19-toetse op lyke te doen voordat doodsertifikate uitgereik kan word.
Die departement van gesondheid het onderneem om toetsstelle aan begrafnisondernemers te gee, maar dit is drie maande later steeds nie afgelewer nie. En dit is nie ál kopseer waarmee ondernemers, veral op die platteland, sit nie.
Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van die departement, het in Augustus ’n brief aan begrafnisondernemers gestuur waarin hulle ingelig is die Covid-19-toetse moet vanaf Oktober gedoen word om te help om “oortollige sterftes” te verklaar.