Hoewel die Alpha- en Delta-variant van die koronavirus ook in Suid-Afrika voorkom, is die land se eie Beta-variant steeds die oorheersende virusvariant hier, het die gesondheidsdepartement Vrydagoggend op ’n mediakonferensie gesê.
Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van die departement, sê die Beta-variant oorheers tans en dryf die derde vlaag van infeksies.
Buthelezi het egter nie uitgewei oor hoekom die ander variante, wat volgens verskeie internasionale nuusartikels hoogs aansteeklik en gevaarlik is, vir eers nie so ’n groot uitwerking in Suid-Afrika het nie.