Pasiënte se vermoë om hemelhoë bedrae geld van dokters te eis vir mediese prosedures wat skeefgeloop het, gaan erg ingekort word as voorstelle tans op die tafel uiteindelik wet word.
Reuse-eise vir mediese nalatigheid is besig om die staat se vermoë om gesondheidsdienste te verskaf aan bande te lê. Mediese spesialiste in privaat praktyk – veral ginekoloë, neuroloë en plastiese chirurge – waarsku ook jare reeds dat hoë versekeringspremies vir nalatigheid beteken dat al hoe minder dokters hierin wil spesialiseer. ’n Spesialis kan deesdae tot R1,2 miljoen per jaar aan versekeringspremies betaal vir omvattende versekering vir nalatigheid.
Hierdie eise het volgens kenners nou tot onbekostigbare vlakke gestyg – verder aangevuur deur gewetenlose prokureurs wat ’n groot deel van die suksesvolle eisbedrag vir hulself toe-eien.