Ondanks onsekerheid oor presies wanneer entstof in Suid-Afrika gaan aankom, het die departement van gesondheid reeds planne aangekondig waarvolgens polisiebeamptes, tronkbewaarders, soldate, mynwerkers en selfs taxibestuurders in Julie teen Covid-19 ingeënt sal word.
Die departement van gesondheid het Vrydagoggend aangekondig dat eers polisiebeamptes en daarna lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ingeënt sal word as deel van hul veldtog om staatsamptenare “in die voorste linie” ingeënt te kry.
“Van die begin af het ons gesê noodsaaklike werkers in die voorste linie moet ingeënt word omdat hulle nie blootstelling aan die gemeenskap kan vermy in hul werk nie,” het dr. Nicholas Crisp, adjunkdirekteur-generaal van gesondheid, gesê. “Dit is belangrik dat ons gemeenskappe en die ekonomie meer stabiel word, en dat hierdie werkers nie doodgaan weens die virus nie. Dit is ook makliker om sulke groepe vinniger te organiseer (om die inenting te kry).”