Dit gaan goed met die hoof van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, Chris Denysschen, wat vroeër die maand met Covid-19 in die waakeenheid in die hospitaal opgeneem is.
Die skool het Woensdag in ’n plasing op sy Facebookblad gesê Denysschen se dokter is “baie tevrede met die verbetering in sy toestand”. Denysschen se familie het mense vir hul ondersteuning bedank.
Die Hoërskool Waterkloof het Vrydag in ’n verklaring gesê die getal infeksies onder die skool se leerlinge en onderwysers het die voorafgaande twee weke toegeneem. Die skool is nie gesluit nie, maar heelwat leerlinge en onderwysers is in isolasie geplaas en daar is met aanlyn klasse voortgegaan.