Die ekseem van ’n sewejarige seun van Riversdal in die Suid-Kaap raak soms só erg dat sy ouers hom glad nie kan vashou of aan hom kan raak sonder dat hy van die pyn krul nie.
Schanette Schoeman, ma van klein Reinhardt, het aan Netwerk24 gesê sy ekseem het begin toe hy sowat drie maande oud was. Hy is in die hospitaal opgeneem en ’n spesialis het hom behandel. Allergietoetse was toe negatief.
“Die ontsteking het nooit lank aangehou nie,” sê sy. “Elke keer is hy behandel en dan het dit ná ’n paar weke aansienlik beter geraak.”