Vyf dae nadat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het Suid-Afrika het reeds 20 miljoen dosisse entstof teen Covid-19 verkry, blyk dit onderhandelinge vir die entstowwe is nie afgehandel nie en die departement van gesondheid skarrel om die president se beloftes aan die nasie te laat realiseer.
Goedkeuring vir die gebruik van een van die voorloper-entstowwe, van AstraZeneca/Oxford, kan boonop met nog 30 dae vertraag word aangesien ’n aansoek nog ingedien moet word om dié entstof, wat geneties aangepaste materiaal bevat, in Suid-Afrika te mag versprei.
Ramaphosa het Maandag in ’n toespraak gesê: “Ons het 20 miljoen dosisse verkry (secured) wat in die eerste helfte van die jaar afgelewer sal word.” Dit sal die helfte wees van wat nodig is om kudde-immuniteit te bereik.