Suid-Afrika gaan nie naastenby genoeg mense ingeënt hê teen Covid-19 voordat ’n derde golf infeksies die land tref nie.
Dit terwyl die regering steeds sukkel om ’n miljoen dosisse AstraZeneca-entstof te verkoop wat volgens ’n topwetenskaplike ’n halfmiljoen mense van ernstige siekte en sterftes kan red.
Prof. Shabir Madhi, dekaan van Wits se mediese fakulteit wat die plaaslike navorsing oor die AstraZeneca (AZ)-entstof gelei het, het die afgelope week verskeie beroepe op die regering gedoen om die AZ-entstowwe toe te dien. Die regering het die entstowwe van Indië aangekoop, maar besluit om dit nie te gebruik nie nadat Madhi se studie gewys het dit is baie minder doeltreffend teen 501Y.V2, oftewel die Suid-Afrikaanse variant, as teen die oorspronklike virus.