’n Jong ma van die Oos-Rand moes Woensdag by ’n familielid se huis geboorte gee nadat sy weens die staking deur Nehawu-lede herwaarts en derwaarts tussen hospitale rondgestuur is.
’n Groep vrywilliger-paramedici het uiteindelik die bevalling behartig.
As alles volgens plan verloop het, sou die 19-jarige Nikita de Kock die dag ’n induksie by die Pholosong-hospitaal in Boksburg kry. Om 07:30 het sy ligte kraampyne begin kry en sy en haar ma, Annemarie, is hospitaal toe, maar klippe in die pad en brandende motorbande het hulle verhoed om by die ingang uit te kom.