Amper vier uit tien Covid-19-pasiënte in die Oos-Kaap wat in ’n hospitaal sterf, het te laat vir behandeling opgedaag.
’n Epidemiologiese verslag van die Oos-Kaapse departement van gesondheid lui dat slegs 21 236 (64,3%) van 33 027 pasiënte wat tot hospitale toegelaat is, weer by die deure uitgestap het. Van hulle was 69% in staatshospitale.
Volgens die verslag, wat ’n week gelede uitgereik is, is die hoogste sterftesyfer (44%) in hospitale onder Covid-19-pasiënte uit die Joe Gqabi-distrik (Aliwal-Noord-gebied). Dit word gevolg deur die Amathole-distrik (38%), wat gedeeltes van die voormalige Transkei insluit, die Chris Hani-distrik (35%) (insluitende Cradock, Middelburg en Komani) en die O.R. Tambo-distrik (34%), wat Mthatha en omliggende gebiede insluit.