Hy was so bang vir sy ouma dat hy een middag ná skool in ’n leë klaskamer gaan wegkruip het sodat hy nie huis toe hoef te gaan nie.
Dié sesjarige seuntjie se 40-jarige ouma het Woensdag in die landdroshof in Mbombela (Nelspruit) verskyn op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy is op borgtog van R500 vrygelaat en moet weer op 30 Maart in die hof verskyn.
Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die beweerde aanranding is op 14 Februarie onder die polisie se aandag gebring nadat ’n bekommerde inwoner van Elukwatini in Mpumalanga die seun ná skoolure op straat gesien het. Die inwoner het aan sy skooldrag gesien by watter skool hy skoolgaan en het hom soontoe geneem. Hier het hy by ’n leë klaskamer ingehardloop.