Adv. Malesela Teffo, teen wie die Regspraktykraad (RPR) ’n aansoek ingedien het om hom van die rol te skrap, het Vrydag die meeste van sy tyd in die hof daaraan bestee om vir ’n uitstel te baklei eerder as om op die aantygings teen hom te fokus.
Die hooggeregshof in Pretoria het ’n aansoek van die RPR aangehoor om Teffo óf te skors as advokaat óf van die rol te skrap. Teffo is die voormalige advokaat vir die verdediging in die Senzo Meyiwa-moordverhoor.
Die RPR se aansoek is gegrond op verskeie aantygings onder meer oneerbiedige gedrag in die hof, misleiding van die hof, aanranding en die wanbesteding van kliënte se geld.