Eggenote wat ná 1 November 1984 buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling getroud is, kan nou die hof nader om bates regverdig te laat herverdeel.
Dit volg nadat die hooggeregshof in Pretoria vandeesweek uitspraak gelewer het in ’n saak waar ’n vrou van Gauteng die minister van binnelandse sake, die minister van justisie en korrektiewe dienste, asook haar man voor die hof gedaag het oor die ongrondwetlikheid van art. 7(3)(a) van die Wet op Egskeidings. Die egpaar se name kan nie genoem word nie omdat die skeisaak nog hangend is.
Regter Elmarie van der Schyff het Woensdag uitspraak gelewer en die artikel ongrondwetlik verklaar. Sy het die uitspraak na die konstitusionele hof verwys vir bekragtiging. Volgens dié artikel kon iemand wat ná 1 November 1984 buite gemeenskap van goedere en sonder die aanwasbedeling getroud is, nie ’n hofbevel vra wat die egpaar se bates onder hulle herverdeel nie.