’n Vrou wat daarin geslaag het om met ’n ernstige meswond aan haar keel uit die bosse te kruip waar sy verkrag is, tot in ’n pad waar sy gered is, se aanvaller is Donderdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Die 31-jarige vrou, wat die aanval oorleef het en wie se naam nie bekend gemaak word nie omdat sy ’n verkragtingslagoffer is, is op 29 Maart vanjaar deur Mpho Majoba (29) in Rosendal in die Vrystaat aangeval, verkrag en beroof, voordat hy haar vir die dood agtergelaat het.
Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het dit in die hof uitgekom dat Majoba vroeër by die vrou aangelê het en sy sy toenadering verwerp het. Hy het haar aangeval toe sy op pad huis toe was en haar by die bosse ingesleep.