Partye wat in hofsake vir enige bakatel, of omdat hulle ontevrede is met ’n tussentydse uitspraak, vra dat die voorsittende regter of landdros hom moet onttrek, moet voor stok gekry word.
Só sê regter Brian Spilg in ’n uitspraak van die hooggeregshof in Johannesburg waarin hy sulke aansoeke deur die beweerde bedrieërs Gary Porritt en Sue Bennett van die hand gewys het.
Die twee staan tereg op meer as 3 000 witboordjiemisdade wat spruit uit gebeure sowat 20 jaar gelede toe die finansiëledienstegroep Tigon in duie gestort het. Tigon was op die JSE genoteer. Porritt was die bestuurshoof en Bennett ’n direkteur.