Al sou die DA daarin slaag om te bewys die ANC se beleid van kaderontplooiing is misbruik, beteken dit nie die beleid is inherent ongrondwetlik nie.
So het adv. Adila Hassim SC, vir pres. Cyril Ramaphosa, Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer in die saak waarin die DA die beleid ongrondwetlik wil laat verklaar.
“Waar die aanstellings (in die staat) onbehoorlik was, was dit ’n misbruik van die beleid, pleks van die toepassing van die beleid. Die feit dat die beleid misbruik is, kan dit nie regverdig om dit ongeldig te verklaar nie.”