Inwoners van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, die woonbuurt waar lt.kol. Charl Kinnear sy lewe lank gewoon het, beplan om vanoggend ’n petisie met amper 5 000 handtekeninge aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) by die landdroshof in Bishop Lavis te oorhandig.
Inwoners vra met die petisie dat borgtog nie aan Zane Kilian (39) toegestaan word nie. Kilian verskyn vanoggend in die hof in Bishop Lavis om te hoor na watter hof sy borgtogaansoek verplaas gaan word.
Die staatsaanklaer, adv. Greg Wolmarans, het met Kilian se verskyning Maandag gesê die hof in Bishop Lavis word as ’n veiligheidsrisiko vir Kilian en ander hofgangers beskou. Graham Lindhorst, voorsitter van die Bishop Lavis gemeenskapspolisiëringsforum, wat die aanlyn petisie begin het, het gesê hulle is onder meer bekommerd dat Kilian vermoor kan word sou hy op borgtog vrygelaat word.