Landdros Twanet Olivier het Donderdag in die streekhof in Oos-Londen beslis dat sy haar nie gaan onttrek aan Julius Malema en sy medebeskuldigde, Adriaan Snyman, se saak wat verband hou met ’n voorval in 2018 toe Malema na bewering ’n outomatiese aanvalsgeweer op ’n EFF-saamtrek in Oos-Londen afgevuur het nie.
Malema staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie en drie aanklagte van die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer. Snyman staan tereg op aanklag van die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer.
Malema en Snyman se regspanne het Donderdag ’n aansoek ingedien dat Olivier haar aan die saak onttrek omdat sy glo bevooroordeeld is.