’n Misterie omhul die besluitneming oor die vervolging van die apartheidsera-polisieman Joao (Jan) Rodrigues, reeds in sy 80’s, weens die moord op die aktivis Ahmed Timol, blyk uit hofstukke in die appèlhof in Bloemfontein.
Dit blyk ook uit die appèl-stukke dat die staat om die een of ander rede nie aan Rodrigues se regspan inligting wou verskaf oor watter rol hy in die moord sou gespeel het nie.
Hy wend hom tot die appèlhof nadat sy aansoek dat vervolging teen hom oor die moord byna 49 jaar gelede gestaak moet word, in die hooggeregshof misluk het. Ook sy aansoek om verlof om teen dié bevinding te appelleer is in die hooggeregshof geweier.