Die streekhof in Blue Downs, Kaapstad, het Donderdag gehoor dat Zane Kilian, wat saam met Nafiz Modack teregstaan vir die moord op lt.kol. Charl Kinnear en die poging tot moord op William Booth, aan die ondersoekbeamptes in die twee sake gesê het Modack het betaal vir die “pings” wat hy op die selfone van Kinnear en Booth gedoen het.
“Ping” verwys na Packet Internet Groper, waarvolgens ’n selfoon se posisie van ’n selfoonmas nagespoor kan word.
Kinnear is op 18 September 2020 voor sy huis in Gearingweg in Sidneyvale, Bishop Lavis, deur ’n onbekende man doodgeskiet. Booth, ’n bekende Kaapse strafregprokureur, het in April 2020 ’n huurmoordaanval by sy huis in Higgovale, Kaapstad, oorleef. Die staat beweer Modack het die moord op Kinnear en die aanval op Booth beplan.