Die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, oorweeg dit om die konstitusionele hof te nader om sy verdoemende bevinding teen haar in die CR17-sage tersyde te stel.
Dié hof het Donderdag bevind dat pres. Cyril Ramaphosa nie die parlement mislei het oor ’n skenking van R500 000 deur wyle Gavin Watson, destydse uitvoerende hoof van die maatskappy Bosasa, aan sy veldtog om in 2017 ANC-president te word nie.
Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, het bevestig dat Mkhwebane dit oorweeg om die hof te vra om sy bevinding te heroorweeg dat sy die etiese kode vir die uitvoerende gesag gewysig het deur die woord “moedswillig” daarin met die woorde “doelbewuste en onopsetlik misleidend” te vervang.