Die openbare beskermer (OB) voer sedert ’n verdoemende hofuitspraak teen haar drie jaar gelede met talle hofaansoeke “ ’n doelgerigte veldtog” om die parlementêre verwyderingsproses teen haar te vertraag en te verhoed.
“Nie ’n doelgerigte veldtog om haar onskuld te verkondig nie,” het adv. Steven Budlender SC, die DA se regsverteenwoordiger, Donderdagmiddag in die hooggeregshof in Kaapstad gesê.
Hy het betoog in die jongste dringende aansoek waarin adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, vra dat die verwyderingsproses teen haar, sowel as pres. Cyril Ramaphosa se dreigende skorsing van haar in die lig van die verwyderingsproses, tydelik opgeskort moet word.