’n Onderhoudsplig tussen paartjies in ’n saamwoonverhouding vorm die kern van ’n hofgeding in die hooggeregshof in Kaapstad waarin gepoog word om veral die regte van vroue in so ’n verhouding te beskerm.
Indien die gemenereg ten opsigte van ’n onderhoudsplig tussen getroude pare nié saamwoonverhoudings insluit nie, word die hof gevra om die gemenereg uit te brei ten einde dit wel in te sluit. Die rede hiervoor is dat die uitsluiting “grondwetlik onaanvaarbaar is omdat dit op grond van onder meer huwelikstatus en geslag diskrimineer”, word aangevoer.
Die saak spruit uit ’n tussentydse aansoek van ’n Kaapstadse vrou, wie se identiteit nie bekend gemaak mag word nie omdat minderjarige kinders betrokke is, dat die hof haar gewese lewensmaat beveel om onderhoud aan haar en hul drie minderjarige kinders te betaal.