Die apartheidsera-polisieman Joao (Jan) Rodrigues, wat nou reeds in sy 80’s is, mag weens die moord op die aktivis Ahmed Timol vervolg word. Die appèlhof in Bloemfontein het Maandag beslis dat die saak mag voortgaan.
Rodrigues se verlof tot appèl, asook dié appèl self, is op 6 November verlede jaar in die appèlhof in Bloemfontein aangehoor.
Hy het hom tot die appèlhof gewend nadat hy in die hooggeregshof in Johannesburg misluk het met ’n aansoek dat vervolging teen hom oor die moord byna 47 jaar gelede gestaak moet word. Sy aansoek om verlof om teen dié bevinding te appelleer is vroeër in die hooggeregshof geweier.