Vader Jeff Hollanders was bejaard en weerloos toe die man wat hy in sy binnekring vertrou en gehelp het, hom “wreed en gevoelloos” vermoor het.
Hierdie diep skending van Hollanders (82) se vertroue in Thabang Maseko (25) is só verswarend dat dit Maseko se jeugdigheid en gebrek aan vorige veroordelings heeltemal oorskadu, het regter André Petersen Vrydag in die hooggeregshof in Mmabatho beslis.
Hy het Maseko daarom 25 jaar tronkstraf vir die moord op Hollanders op 13 Januarie 2020 in die Bodibe-nedersetting naby Lichtenburg opgelê. Petersen het die staatsadvokaat, Bennie Kalakgosi, gelyk gegee dat Maseko se verraderlike optrede ’n swaarder vonnis regverdig as die minimum voorgeskrewe 15 jaar vir ’n eerste oortreder wat moord pleeg.