In wat as ’n gevallestudie vir ander dorpe in die land beskryf word, word pres. Cyril Ramaphosa en 16 ander respondente Donderdag oor die vervalle Mafube-munisipaliteit in die Vrystaat hof toe gesleep.
Die Mafube-besigheidsforum en AfriForum het die hofsaak in die hooggeregshof in Bloemfontein aanhangig gemaak. Die twee organisasies het Woensdag op ’n aanlyn nuuskonferensie op Facebook gesê hulle vra ’n hofbevel om nasionale ingryping kragtens art. 139 (7) van die Grondwet af te dwing. Hulle wil ook hê dat die gemeenskap intussen toegelaat word om munisipale dienste met staatsgeld te lewer op die betrokke dorpe – Frankfort (waar die munisipaliteit gesetel is), Villiers, Cornelia, en Tweeling – in samewerking met munisipale amptenare wat nie in staat is om dit te doen nie.
Frankfort is die tuisdorp van Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, wie se regering vroeër besluit het om die provinsiale ingryping by Mafube te staak, terwyl daar volgens die applikante bykans geen munisipale dienslewering is nie.