In ’n emosionele uitspraak wat sommige regskenners as “onrusbarend” beskryf, het ’n waarnemende regter in Pretoria hom op “God Almagtig” beroep om die aarde te verlos van die “euwel van kolonialisme”.
Waarnemende regter Malebo Habedi se oproep tot goddelike ingryping – asook ’n bisarre paragraaf waarin hy bely dat hy niks van die geskiedenis af weet nie – vorm deel van ’n uitspraak waarin hy bevind het dat die openbare beskermer (OB) korrek was in haar bevinding dat die voormalige Wes-Kaapse premier Helen Zille se gewraakte “kolonialisme-twiet” geweld aanhits. In dieselfde asem bevind hy egter ook dat die saak slegs van akademiese belang is en daarom geen praktiese doel dien nie. Regskenners beskryf dié benadering as vreemd, teenstrydig en tekenend van ’n onervare regter.
Habedi, in die normale gang van sake ’n advokaat van die Johannesburgse balie, het Dinsdag uitspraak gelewer in die saak waarin Zille die hof gevra het om ’n bevinding van die OB, dat haar twiet onbehoorlik was, ter syde te stel.