Die staat het Maandag vir verdere uitstel gevra om die vertoë van drie betrokkenes by die sogenaamde geheime eenheid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in oorweging te neem.
Ivan Pillay (64), Andries Janse van Rensburg (53) en Johann van Loggerenberg (49) word daarvan beskuldig dat hulle vertroulike gesprekke van die Skerpioene en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) van 2006 tot 2007 afgeluister het.
Die driemanskap se saak sloer al meer as tien jaar. Hulle verskyn op aanklagte van oortredings van die Wet op die Onderskepping van Inligting en die Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting (Rica) en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, alternatiewelik korrupsie.