Die integriteit van die hoogste hof sal weens die omstrede SMS-sage in die gedrang bly totdat die regters én administratiewe personeel daarvan deur middel van ’n geloofwaardige ondersoek van enige redelike vermoede van misdadigheid daaromtrent verontskuldig word.
Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), voer só aan in haar jongste hofstukke in die hooggeregshof in Kaapstad. Daarin vra sy dié hof om nuwe getuienis in haar dringende interdikaansoek teen die parlement en pres. Cyril Ramaphosa, wat Woensdag en Donderdag aangehoor moet word, by te voeg.
Sy voer verder aan dat daar geen “regs-, praktiese of feitelike” redes is vir waarom haar aansoek, sowel as die parlement se verwyderingsproses én haar dreigende skorsing deur Ramaphosa, kan voortgaan alvorens hoofregter Raymond Zondo nie sy ondersoek na die SMS-sage afgehandel het nie.