Twee dae nadat aanklagte van aanranding en naamskending teen die gewese Southern Kings-rugbyspeler Tiaan Swanepoel teruggetrek is danksy bewyse dat hy met iemand anders verwar is, het einste Swanepoel en nog twee mans op ’n onverwante aanrandingsklag in die hof verskyn.
Swanepoel (19), wat intussen ’n aanbod kwyt is om rugby in Frankryk te gaan speel, is verlede maand daarvan aangekla dat hy ’n swanger vrou in Melkbosstrand aangerand en ’n rassistiese aanmerking gemaak het. Rhimondy Apollis het beweer Swanepoel was deel van ’n groep mans wat haar, haar man en haar ma op 13 Desember in die parkeerterrein by die strand op Melkbosstrand getreiter het.
Een van die groep het glo teen Apollis se VW Polo vasgery. In die konfrontasie daarna is Apollis amper omgery en ’n man wat sy gedink het Swanepoel was, het haar teen die kop geklap en na bewering gesê: “Jou vuil kleurling h****t!”