Uitspraak in ’n aansoek vir die bekragtiging van ’n voorlopige interdik teen ’n pa en seun van Hennenman deur ’n pa van Bloemfontein en sy seun van Hoopstad oor ’n beestransaksie wat suur geraak het, is in die Vrystaatse hooggeregshof voorbehou.
Regter Philip Loubser het gelas dat die tussentydse bevel wat Johannes de Villiers (34) van die plaas Vrede, Hennenman, en sy pa, Jaco (59), verbied om vir Gert Victor (74) van Universitas, Bloemfontein, of sy seun, ook Gert, aan te rand, te dreig, te vloek of hulle of hul werkers te intimideer, sal intussen van krag bly.
Midde in die hoftwis is net meer as 300 verse en ’n aantal bulle van Consortium Beef, waarvan De Villiers jr. ’n direkteur is, wat deur die Victors op hul huurplaas Zuurfontein by Maselspoort en die aangrensende Rooiwal versorg word.