Dag 3 van die eerste staatskapingsverhoor in die land gaan waarskynlik onderbreek word sodat minstens vier van die beskuldigdes eers in ’n voorverhoor oor die beweerde Estina-melkbedrogspul van Vrede kan verskyn.
Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van die departement, Ronica Ragavan, vermeende Gupta-meeloper, en die Gupta-maatskappy Islandsite Investments 180 verskyn Woensdag vir die eerste keer in ’n voorverhoor oor die beweerde Estina-bedrogspul van meer as R200 miljoen.
Hulle word saam met Mosebenzi Zwane, oudminister en voormalige Vrystaatse LUR, en ’n voormalige direkteur van verskeie Gupta-maatskappye, Ugeshni Govender, op aanklagte van onder meer bedrog en korrupsie aangekla.