Jurie Roux, voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), se poging om ’n arbitrasiebeslissing tersyde gestel te kry dat hy R37 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch (US) moet terugbetaal, het Woensdagoggend die wind van voor gekry in die hooggeregshof in Kaapstad.
Die US poog om sowat R37 miljoen, plus opgehoopte rente, van Roux te verhaal weens beweerde onregmatige besteding van die US se reserwefondse. Roux was voordat hy in 2010 by Saru begin werk het die US se senior direkteur van finansies en batebestuur, asook die voorsitter van die rugbyklub.
Roux se argument dat die US nagelaat het om getuienis aan te bied van hoe die universiteit gebaat het by die onregmatige besteding van sy reserwefondse, is deur regter Vincent Saldanha afgeskiet. Saldanha het die punt gemaak dat Roux se regspan ’n geleentheid gehad het om ’n voorlegging te doen oor hoe die US gebaat het, maar versuim het om dit te doen.