Die Vrystaatse premier moet aan minagting van die hof skuldig bevind word weens twee hofbevele oor die rioolaanleg in Frankfort wat nie uitgevoer is nie, het die Mafube-besigheidsforum (MBF) Donderdag in die hooggeregshof in Bloemfontein gevra.
Dié forum het deur sy advokate aangevoer die Mafube-munisipaliteit het vorige hofbevele dat dienste soos die rioolaanleg in Frankfort dringend herstel moet word, geminag.
Hulle voer aan vrot rioolvuil oorvloei ’n jaar ná die laaste hofuitspraak steeds die dorp en besoedel riviere soos die Wilge- en Vaalrivier.