Bouwerk aan die vervalle landdroshof in Musina, wat Maandag as lewensgevaarlik bestempel is, het reeds in Januarie 2019 tot stilstand gekom.
Die departement van arbeid het Maandag ’n verbodskennisgewing ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid uitgereik en die gebou is onmiddellik gesluit. Hofsittings waar sake slegs uitgestel word, word nou onder bome en afdakke gehou.
Die departement van justisie sê daar is al etlike kere die afgelope paar jaar gekla oor die toestand van die bruin baksteengebou in Flaxlaan. Gedeeltes van die plafon het vroeër vanjaar ingeval nadat swaar reën in Musina uitgesak het. Slegs een toilet het gewerk, elektrisiteitskaste en bedrading is nie in veilige omhulsels nie en van die hofselle se deure kan nie behoorlik toemaak nie.