Oudpres. Jacob Zuma se private vervolging van die News24-joernalis Karyn Maughan en adv. Billy Downer SC is ’n blatante misbruik van hofprosesse om sy korrupsiesaak verder te vertraag.
Dit het ook ten doel om Maughan en Downer te teister en te intimideer, het dié twee se regspanne Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg betoog toe hulle hul aansoeke om die private vervolging te stop voor die hof gebring het.
Zuma laat vir Maughan en Downer, staatsaanklaer in sy korrupsiesaak, privaat vervolg omdat hy glo Downer het private mediese inligting van hom aan Maughan gegee.