Hoewel oudpres. Jacob Zuma nog ’n besluit moet neem, is sy regsopsies nie uitgeput nadat die appèlhof sy heroorwegingsaansoek oor die verwydering van adv. Billy Downer in sy korrupsieverhoor van die hand gewys het nie.
Kenners het Vrydag gesê Zuma kan nou die konstitusionele hof met ’n nuwe aansoek om verlof tot appèl oor dié kwessie nader.
Al bring Zuma egter so ’n aansoek, sal dit nie noodwendig tot verdere vertragings in sy korrupsieverhoor lei nie omdat dit volgens kenners steeds regter Piet Koen se besluit sou wees of hy met die saak wil voortgaan of nie.