Eers moet sekere basiese feite omtrent die Anglo-Boereoorlog (ABO) voorgehou word, byvoorbeeld dat in die loop van twee en ’n half jaar van 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902 minstens 7 792 Britse soldate op die slagveld gesneuwel of aan wonde beswyk het, nog 14 658 aan siekte of weens ongelukke dood is en nog 75 430 weens siekte of wonde gerepatrieer is. Dit is onduidelik presies hoeveel swart en bruin mense, asook mense van Asiatiese afkoms wat in Britse diens was, dood of gewond is.
Minstens 3 990 Boere en geallieerdes (soos Kaapse en Natalse rebelle en buitelandse vrywilligers) het gesneuwel; 157 het in ongelukke gesterf, 924 is op kommando aan wonde of siekte dood en 1 118 is in krygsgevangenekampe oorlede. Dit is onduidelik hoeveel aan Boerekant gewond is. Minstens 27 927 (maar dalk soveel as 31 000) wit burgerlikes is in interneringskampe dood, asook minstens 23 000, maar waarskynlik baie meer, swart burgerlikes.
Die moontlikheid bestaan dat selfs meer swart as wit persone in die kampe gesterf het.