Die VSA het onlangs binne ’n kwessie van twee weke twee baie duidelike waarskuwings oor Suid-Afrika uitgereik – oor die moontlikheid van ’n grootskaalse terreuraanval in Sandton én dat ’n uiters gevaarlike terroristegroep in die land skuil.
Terwyl die moontlikheid dat Suid-Afrika in Februarie op die internasionale “gryslys” geplaas gaan word, by die dag naderkom, het die Amerikaanse tesourie se kantoor vir buitelandse batebeheer (OFAC) in November sanksies teen vier KwaZulu-Natalse mans en hul verwante maatskappye ingestel, wat volgens die OFAC “kernindividue” van die Islamitiese Staat (Isis) se netwerk in Suid-Afrika is.
Die veelbesproke “gryslys” het enorme implikasies vir die Suid-Afrikaanse ekonomie aangesien lande op dié lys aan baie strenger maatreëls onderwerp word om misdade soos geldwassery en die finansiering van terreur te bekamp.