Daar is min menslike aktiwiteite oor die eeue wat nie in die een of ander stadium tot rekords of rekordpogings aanleiding gegee het nie. Dit bly deel van die mens se aard om altyd te strewe na beter, verder, vinniger, langer, groter, hoër. Dans is geen uitsondering nie. (Die rekord vir die grootste dans, terloops, is jare lank deur die landbouvereniging in Houston, Texas, gehou. Hulle het in 1969 daarin geslaag om meer as 17 000 mense by ’n skoudans te laat opdaag.)
Een van die verstommendste rekords op ’n dansbaan is opgestel tydens een van die veelbesproke dansmarathons in die VSA. Hierdie kompetisie het in 1932 in die Motor Square Garden in Pittsburgh in die VSA plaasgevind. Dit was in die hartjie van die Depressie en talle mense was werkloos en sonder geld. ’n Prys van duisend dollar (sowat $20 000 in vandag se terme, of dan byna R360 000) is uitgeloof vir die paartjie wat die langste kon dans.
Die reëls het aanvanklik bepaal dat die dansers ná elke uur vir 15 minute kon rus. Dié rusperiode is later verkort tot tien minute per uur, toe tot sewe minute, toe vyf en uiteindelik ’n skamele drie minute rus per uur. Ná ’n week was daar van enige stylvolle dans geen sprake meer nie. Die oorblywende danspaartjies was moeë, moedelose mense wat sleepvoet ná die kort rusperiodes die dansery hervat het.
Toe die owerhede uiteindelik ingryp om hierdie martelende marathon stop te sit, was daar nog net een paartjie op die dansbaan oor. Hulle name: Tony Alteriri en Vera Mikus. Hulle het tussen Junie en November 1932 vir ’n verstommende 173 dae gedans.
Daar was talle soortgelyke dansmarathons in die 1920’s en 1930’s in Amerika. Die musiek wat gespeel is, was meestal stadige melodieë, wat dan so elke uur of twee deur ’n liedjie met ’n vinniger tempo afgewissel is.
Die algemene reël was dat die dansers nie aan die slaap mag raak nie, maar by sommige van hierdie marathons was dit wel toelaatbaar dat één van die twee dansers indut, solank die dansmaat hom of haar regop hou en hulle bly beweeg. Daar was gewoonlik ook ’n dokter en ’n paar verpleegsters teenwoordig by hierdie geleenthede.
Dansmarathons is later in die VSA verbied omdat dit so gevaarlik was vir die deelnemers. Daar wás gevalle waar dansers dood is weens uitputting. Een so ’n noodlottige geval was vandeesmaand presies ’n eeu gelede toe ’n 27-jarige danser, ene Homer Morehouse, op 14 April 1923 op ’n dansvloer in Boston tydens ’n marathon inmekaargesak en gesterf het. Hy en sy dansmaat het 87 uur lank ononderbroke gedans. Die Bostonse stadsraad het hierna ’n totale verbod op alle dansmarathons geplaas.