’n Mens kry steeds, meer as ’n eeu ná sy dood, koue rillings as jy die lewensverhaal lees van baron Manfred von Richthofen, die legendariese Duitse vegvlieënier van die Eerste Wêreldoorlog wie se geboortedag op 2 Mei 1892 vandeesweek herdenk word. In sy rooigeverfde Fokker DR-1-trippelvlerk het hy die erenaam, Die Rooi Baron, verwerf en vrees by sy opponente ingeboesem.
Albe Grobbelaar vertel meer.
Manfred Albrecht Freiherr von Richthofen het grootgeword in ’n tyd toe vliegtuie nog nie eens bestaan het nie.
Hy was van kleintyd af lief vir perdry en jag, en met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog sluit hy by ’n artillerie-regiment aan. Teen die middel van 1915, slegs tien jaar nadat die Wright-broers die eerste praktiese vliegtuig ontwikkel het, besluit die 23-jarige avontuursoeker om ’n vlieënier te word.
’n Jaar later, ná ’n tydperk van intensiewe opleiding, skiet Von Richthofen sy eerste opponent neer. In die daaropvolgende 30 maande sou hy met meer as 80 opponente in die lug afreken en in die proses nie net een van die grootste oorlogshelde in die geskiedenis van Duitsland word nie, maar ook een van die beroemdste vegvlieëniers van alle tye, die ace of aces.
Vir die Duitse propaganda-masjinerie was Von Richthofen, ook ná sy dood, van onskatbare waarde. Selfs in die Tweede Wêreldoorlog sou hy as ’n voorbeeld voorgehou word. Hy is opgebou tot ’n byna bomenslike figuur, die beliggaming van alles waarna ’n Duitse soldaat moes strewe.
Die kort, bonkige Von Richthofen het die roem wat hy so begeer het in oorvloed ontvang nadat hy sy 16de opponent neergeskiet en die gesogte Pour le Mérite-medalje, die sogenaamde Blue Max, gelykstaande aan die Britse Victoriakruis, ontvang het.
Hy word later in bevel geplaas van die Jagdgeschwader I, ’n gevreesde eskader wat onder die Geallieerdes as “Die Vlieënde Sirkus” of “Richthofen se Sirkus” bekend geword het. Díe naam was deels die gevolg van die helder kleure van die eskader se vliegtuie, maar ook die wyse waarop Von Richthofen en sy span soos ’n rondtoerende sirkus orals opgeduik het en in tente by geïmproviseerde vliegvelde gebly het.
In April 1917 skiet die Rooi Baron, soos hy toe wyd bekend was, 21 opponente neer, van wie vier op een dag. Sy rooigeverfde vliegtuig word ’n vreesaanjaende gesig. Stories oor sy vegmetodes en vaardigheid versprei soos ’n veldbrand. Vir sy 64ste slagoffer, ’n man wat gelukkig genoeg was om sy luggeveg teen Von Richthofen te oorleef, stuur die Rooi Baron ’n doos sigare in die hospitaal.
Von Richthofen het in ’n verskeidenheid vliegtuie geveg. Aanvanklik het hy hoofsaaklik die tweesitplek Albatros C.III gebruik. Hy het later besluit dat hy ’n meer beweeglike vliegtuig nodig het, selfs al sou hy lugspoed moes inboet. In Januarie 1917 skakel hy oor na die Albatros D.III, en kort daarna na die Halberstadt D.II. Vanaf laat Julie daardie jaar veg hy ook in sy gevierde Fokker Dr.I-trippelvlerk, die vliegtuig wat sinoniem met sy naam geword het.
Op 21 April 1918 vind die jong Duitser se heel laaste luggeveg plaas, slegs enkele dae voor sy 26ste verjaardag. Daar bestaan twyfel oor wie hom uiteindelik neergeskiet het. ’n Australiese lugafweer-regiment naby die plek waar sy vliegtuig in die veld by Vaux-sur-Somme in Frankryk neergestort het, het vas geglo dat dit hulle was. ’n Kanadese vlieënier, kapt. Roy Brown, was daarvan oortuig dat dit hý was. Wat wel bekend is, is dat ’n enkele .303-koeël Von Richthofen in die bors getref het kort voordat sy vliegtuig die grond getref het.
Miskien is dit paslik dat niemand bo alle twyfel die eer kon opeis vir die beëindiging van die roemryke loopbaan van die Rooi Baron nie.
* Grobbelaar is ’n Bloemfonteinse radioman, afgetrede joernalistiekdosent en rubriekskrywer wat daagliks die radiopraatjie Historiese almanak op Pretoria FM aanbied.