Klimaataktiviste het Maandag probeer om in vyf Britse stede chaos te saai in ’n poging om die regering te dwing om wat hulle noem klimaatrampspoed te help keer.
Die Extinction Rebellion-groep het Londen in April 11 dae lank met betogings ontwrig in die grootste daad van burgerlike ongehoorsaamheid in die onlangse Britse geskiedenis. Ikoniese plekke is blokkeer, die Shell-gebou beskadig, treine gestop en Goldman Sachs geteiken.
“Dié noodmobilisering van gewone burgers, aangevuur deur die bedreiging van klimaats- en ekologiese ineenstorting, eis dat die regering onmiddellik optree om verliese aan biodiversiteit te keer en kweekhuisgasse teen 2025 tot die nulpunt te verminder,” het die groep gesê.