Noorweë se appèlhof het gister ’n aansoek teen die regering se planne om olie-ontginning in die Noordpoolgebied toe te laat van die hand gewys. Omgewingsaktiviste en drukgroepe het betoog die regering se planne sal mense ontneem van hulle reg tot ’n gesonde omgewing.
Hoewel die meeste van Noorweë se olieproduksie van suid van die Noordpoolsirkel kom, glo die regering die grootste reserwes lê onder die Barentsz-see aan Europa se noordooskus.
Gister se uitspraak het die bevindings van twee laerhowe bekragtig en die betoë van Greenpeace en ’n groep genaamd Nature and Youth, naamlik dat lisensies wat in 2015 en 2016 aan Equinor en ander maatskappye toegeken is strydig is met Noorweë se grondwet, verwerp.