Die 95-jarige koningin Elizabeth moet op doktersadvies nog twee weke rus, het Buckinghampaleis Vrydagaand bekend gemaak. Sy mag wel virtuele vergaderings en “ligte take” in dié tyd nakom.
Hoewel die koningin vandeesweek verskeie virtuele oudiënsies toegestaan en Vrydag ’n video-toespraak vir die komende COP26-beraad in Glasgow, Skotland, opgeneem het, sal die verpligte rus beteken dat sy nie meer op 13 November die konsert in die Royal Albert Hall sal kan bywoon nie.
Die bydrae van sowel soldate as burgerlikes in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog word gebruiklik op die tweede naweek in November gevier. Die Saterdagaand word ’n huldeblykkonsert gehou, waarna die mees senior koninklikes die Sondag kranse by die senotaaf in Londen lê.