’n Amerikaanse vrou is met haar gesin herenig meer as 50 jaar nadat sy as baba deur ’n oppasser in die deelstaat Texas ontvoer is.
Melissa Highsmith was in 1971 net 21 maande oud toe haar ma, Alta Apantenco, ’n advertensie in ’n koerant in Fort Worth geplaas het op soek na die dienste van ’n kinderoppasser, berig The Guardian. Apantenco het Melissa op haar eie grootgemaak en iemand nodig gehad om na haar dogter te kyk terwyl sy die pot aan die kook hou.
Apantenco het nooit die babaoppasser self ontmoet nie omdat sy by die werk was toe dié opdaag. Haar huismaat het Melissa aan die oppasser oorhandig, wat haar na bewering ontvoer het.