Haïti is besonder kwesbaar vir aardbewings soos Saterdagoggend s’n wat reeds honderde lewens geëis het omdat die land gedeeltelik op ’n ondergrondse verskuiwingslyn lê.
Teen Sondagaand is meer as 724 sterftes reeds bevestig. Meer as 1 800 mense is beseer in die aardbewing Saterdagoggend omstreeks 8:30 met ’n sterkte van 7,2, berig Reuters.
Mense het regdeur Saterdagnag in die rommel na vriende en familielede gesoek wat onder ineengestorte geboue vasgekeer is. Kerke, hotelle, huise en ’n tronk se mure het ineengestort. In video’s wat op sosiale media versprei is, kan gesien word hoe geskokte mense uit die rommel gehelp word. Talle word nog vermis.