Stakings by vier Duitse lughawens het Vrydag weer tot die kansellasie van honderde vlugte gelei in die jongste betogings wat reisplanne die afgelope maande ontwrig.
Die Duitse vakbond Verdi het ’n beroep op veiligheids- en grondpersoneel by die Düsseldorf-, Keulen-Bonn-, Stuttgart- en Baden-Baden-lughawe gedoen om oor hul salarisse en werkomstandighede te staak.
Die Keulen-Bonn-lughawe sê 144 vlugte is gekanselleer, terwyl die Düsseldorf-lughawe vroeër gesê het hy verminder die aantal vlugte. Dié lughawe het oorspronklik Vrydag 368 landings en opstygings op die skedule gehad.