Huldeblyke stroom in ná die dood van oudpres. Kenneth Kaunda (97) van Zambië. Hy is Donderdagmiddag in die Maina Soko-hospitaal in Lusaka aan longontsteking dood.
Hoewel Zambië se ekonomie, wat grootliks op koper gegrond is, swak gevaar het onder sy leierskap, sal Kaunda waarskynlik altyd onthou word vir sy rol as vegter teen kolonialisme wat veral ook in Suid-Afrika betrokke was by die stryd teen apartheid. Hy het ook ’n groot stryd gestry teen MIV/vigs in Afrika.
Kneo Mokgopa, kommunikasiehoof van die Nelson Mandela-stigting, sê dit is nie toeval dat Kaunda op oudpres. Nelson Mandela se begrafnis gepraat het nie.