WAARSKUWING: Foto’s en beeldmateriaal in Netwerk24 se oorlogsdekking kan lesers ontstel.
• Oekraïne is formeel as 'n kandidaat vir lidmaatskap van die Europese Unie (EU) aanvaar.
• Oekraïense troepe moet dalk uit frontlinies in die oostelike stad Lisitsjansk terugtrek om te voorkom dat hulle omsingel word, sê goewerneur Serhi Haidai van die Loehansk-oblast, waarin Lisitsjansk geleë is.
• Oekraïne sê sy soldate hou nog uit in Sjewjerodonetsk.
• Die hawestad Mikolajif is deur drie kruisermissiele getref en nog twee het Odesa getref, sê die Oekraïense gewapende magte. Rusland sê hy het brandstoftenks en militêre toerusting van die Oekraïense weermag naby Mikolajif met hoëpresisiewapens getref.
• Oekraïne hoop die kragtige Himars-langafstandwapenstelsels wat hy pas uit Amerika ontvang kan die deurslag gee in die oorlog teen Rusland.
• Premier Boris Johnson het Donderdag gesê Brittanje is bereid om te help om seemyne uit Oekraïne se suidelike kuswaters te verwyder. Die land oorweeg dit ook om versekering aan skepe te gee om miljoene ton graan uit die land te vervoer.
• Die eerste saak teen ’n Russiese soldaat wat van verkragting beskuldig word, het in Kijif begin.