Boris Johnson, Britse premier, het 10 Downing Street Donderdag laatoggend verlaat om iewers buite Londen besoek te gaan aflê. Sky News berig dit beteken die vooruitsig dat hy dieselfde dag nog in die Britse Laerhuis sy kant van die saak oor die Sue Gray-verslag sal stel, is toenemend onwaarskynlik.
Johnson het vroeër belowe om voort te veg as premier ná vars beroepe op hom om te bedank weens die skandaal oor die partytjies wat hy in 10 Downing Street gedurende die inperkings gehou het.
Die BBC berig LP’s wag steeds om die bevindinge in Gray, ’n senior staatsamptenaar, se verslag te sien nadat sy ’n ondersoek na die “Partygate”-aangeleentheid gedoen het. Die uitreiking van die verslag is aanvanklik Woensdag verwag.